Daar is min dinge wat my so goed laat voel soos ‘n nuwe liedjie van Karen Zoid. Haar stem is strelend, sielvol en sommer net lekker. Die lirieke is betekenisvol, braaf en briljant. Haar nuwe liedjie, gesing saam met Neil Sandilands en Early B, is geen uitsondering.

In die donker tyd van lockdowns het ons elkeen ‘n opkikkertjie nodig. Die lirieke van “Toe die wêreld stil gaan staan” is so vol gevoel en toepaslik op ons lewens hierdie laaste twee weke. Ons elkeen het nou skielik meer tyd saam met familie, tyd om bietjie in die aand soos ‘n dromer na die maan te sit en staar, ons besef skielik hoe broos die wêreld (en ons) eintlik is en ons besef dat ons nie veel gaan bereik as ons nie saamstaan nie.
Dat dit nou ‘n lockdown moet vat om tot hierdie insigte te kom.