Gebede


Thinking out loud by Ronel van Wyk

Ek het nou al geleer om mooi te dink waarvoor ek bid. En, selfs meer belangrik, om God se proses te volg om by my gebedsversoek uit te kom.

So 3 jaar terug was my hartsbegeerte en gebed om my werk op datum te kry sodat ek meer tyd met my kinders kan spandeer. 

Nou moet ek net byvoeg dat onse mense (ek!) maar ook lekker “stupid” kan wees. Ek sien nou en ek sien hoe ek dit wil hê, maar hoe ek daar gaan kom neem ek glad nie in ag nie. Dit moet net so wees en klaar.

My boekhouding sisteem was nie soos wat dit moes wes nie nie. Ek was altyd besig om oral in te gryp en alles te probeer doen en tog het ek net nooit voorgebly nie.

En toe kry ons ‘n funksie wat my gedwing het om ons “Tax Goodstanding” te kry en toe kom ek agter dat daar grooooot marakas op ons rekening was! Goed wat verkeerd geboek was van baaaaie jare terug, betalings wat verkeerd (of selfs glad nie) geallokeer is nie EN EN EN! Eers “bitch and moan” ek want dit vat soveel tyd van my om alle bewyse agter mekaar te kry en dan moet jy by die Ontvanger gaan sit (wat ‘n marteling op sy eie is!), en ek het dan juis nie tyd nie!

Uiteindelik is alles uitgesorteer en sit ek met ons “Goodstanding” in my hande. 

Gatvol en mismoedig met ‘n hele nuwe versameling van swetswoorde.

En in daai oomblik het die woorde by my opgekom: ‘Onthou waarvoor jy bid’.

Al wat ek kon doen is lag!!  Kliphard-uit-die-diepte-van-my-siel-LAG!

God beantwoord wél ons gebede!

Ons sien net nie die tussen-in raak nie!  En ons moet darem ook bereid wees om die werk te doen!

Ek wou my werk en alles wat daarmee gepaard gaan op datum hê, maar tog het ek die slegste werk opsygesit vir ‘n ander dag. Teen die trant wat ek gewerk en die dinge uitsorteer het, sou ek nooit my werk op datum kry nie en daar kry ek toe so ‘n “nudge” van God om die proses so bietjie aan te help.  Jy weet, soos as jou kind op die rand van die swembad staan en huiwer om in te spring en jy weet hy kán swem, dan stamp jy net so saggies en daar gaat hy!

Vandag is my dokumentasie en boekhouding alles op datum. En glo my, my belasting is heel bo-op die lysie! Ek het ook meer tyd saam met my kinders, want ek ry hulle rond in die middag. Ook nie heeltemal wat ek in gedagte gehad het toe ek daarvoor gebid het nie! Maar ek is dankbaar vir die voorreg om dit te kán doen.

My punt is…ons sien soms net die “disaster” in die oomblik raak en mis die groot prentjie. Druk net deur en hanteer dit wat oor jou pad kom, want jy het tien teen een al vergeet waarvoor jy gebid het, maar God is nog besig om jou gebed te verhoor!

Daar is nie kortpaaie nie. Vertrou God se proses.

Ek weet waarvoor ek gebid het, en ek besef vanoggend toe ek net wil tjank oor die emosies en uitdagings wat ek moet deurwerk, dat dit deel is van die proses. En ek weet dat God uiteindelik al my gebede verhoor (al is dit soms nie soos wat ek gedink het nie) en dit sluit vandag s’n in!

Tot elke gebed verhoor word, sal ek dankbaar wees vir elke bietjie worstel en uitsorteer wat op my drumpel opdaag.

En as jy mooi kyk, sal jy sien dat God altyd so bietjie humor in die proses gooi.