Daar word vertel dat toe Neil Armstrong vir sy ouers vertel het dat hy ‘n vlieënier wil word het sy ma gesê het hy het net soveel rede om te leer vlieg as die man in die maan. Min het sy geweet dat haar seun die eerste man op die maan sou wees. Daar kan nou maklik geredeneer word dat sy ma die toekoms van die mens kon beïnvloed het, maar hier moet ons iets leer oor die hart van ‘n ma. Die veiligheid en die versorging van haar gesin is vir haar ‘n groot prioriteit en een van die grootste seëninge van hierdie wêreld is om ‘n gelowige ma te hê.

In Spreuke 31 vertel koning Lemuel se ma vir hom wat ‘n goeie vrou is en in vers 25 lees ons: Alles aan haar spreek van ‘n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. Dit praat van groot geloof, want eintlik bestaan ‘n ma se lewe uit “worry”. Kan jy dink hoe Neil Armstrong se ma gevoel het toe haar seun in Apollo 11 die ruimte in geskiet is? Tog leer die Bybel ons dat die gelowige ma geen kommer oor die toekoms het nie so wat doen gelowige ma’s?
- Gelowige ma’s het werklike geloof; Paulus prys vir Timoteus vir sy geloof, maar Paulus weet dat Timoteus groot geword het met ‘n gelowige ouma en ma en soos Timoteus hulle geloof in aksie gesien het, het sy geloof gegroei. Mamma, moenie jou geloof wegsteek nie, maar laat jou kinders dit beleef.
- Gelowige ma’s gehoorsaam God se Woord en keer haar kinders in dit; Die beste manier om van God te leer en Hom te beleef is deur Sy Woord te leer. Ma’s se liefde vir God leer hulle kinders liefde vir God.
- Gelowige ma’s het groot invloed op hulle kinders; Die Engelse prediker van die 1800’s het ‘n groot impak gemaak in die lewens van duisende mense en sy getuienis was van ‘n ma wat vir hom gebid het en hom so beïnvloed het om sy lewe te verander.
In ons besige lewens sukkel ons soms om alles bymekaar te hou. Dink vandag aan die mammas wat hulle eie lewens en drome verruil vir die versorging van hulle gesinne. Mammas wat hulle goddelike roeping opneem om sterk en edel mense te wees wat in God glo en dit aan hulle kinders oordra. Mag God hulle seën in al hulle dae en hulle versterk in hulle geloof dat hulle nooit oor die toekoms besorg hoef te wees nie.
Geskryf deur Nico Luther Nico is ‘n herplante Namibiër wat onlangs teruggekeer het en woon nou in Otjiwarongo. Hy spandeer sy dae deur te lees, aan sy volgende preek te werk en soveel appeltert as moontlik te eet. Hy en sy vrou het onlangs ingeskakel as die pastore by die AGS Otjiwarongo nadat hulle byna drie jaar in Middelburg in die Karoo spandeer het.
Volg hulle op Facebook